
=====================================================================
Wie sal die verlossende woord spreek? (AV 5:5)
=====================================================================

Inhoudsoorsig


Wie sal die verlossende woord spreek?

Flip Strydom gee indrukke van 'n Noord-Kaapse besoek.

SO al om die negende week ry ons driemanskap vier dae in die Noord-Kaap rond. Dis nou die projekleier Chrissie Jacobs van Upington, Horatio 
Hart van Atlantis en ek self van die Stigting vir Afrikaans. Ons besoek Afrikaanse   geletterdheidsprojekte oor 'n trajek van 1 300 km op 
dorpies en nedersettings met pragtige name: Grootdrink, Wegdraai, Opwag, Lamprechtsdrif, Putsonderwater, Kenhardt, Marchand, Friersdale, 
Rietfontein, Philandersbron, Loubos en Askham. (Chrissie sorg vir die padkos wat skrik vir niks.)

Ons kyk na die skryfwerk van hande wat maar pas vir die eerste keer 'n potlood leer vashou het. Ons luister na passasies uit die Bybel, 
gelees deur o wat enkele maande gelede nog maar net 'n deurmekaarspul van letters kon sien. Ons luister ook na die ongelooflike sang van 
stemme wat hulle Here loof omdat "die lig deurgebreek het". En 'n mens moet net keer of jy voel goed oor die wonderlike werk wat jy onder 
die armstes van die armes doen. En nogal trots omdat niemand anders nie, allermins die provinsie, kans sien om dit te doen.

Elke plek het sy eie wonderbaarlikhede. Op Lamprechtsdrif, byvoorbeeld, is die klaslokaal 'n groot halfgepleisterde rietskerm wat lug en 
lig van buite inlaat. Een van die leerders het dit self opgerig. Die sitbankies is baie laag en bejaarde leerders skiet die stywe bene 
vorentoe met die gaan-sit-slag. Chrissie se man, Cor Jacobs, het vierkante gesaag om as skryfvlakke te dien. Buite die skerm is daar 'n 
groen verrassing: die leerder het sy eie vredestuin geplant. Die gemeenskap kan pragtige groente by hom koop n daar is 'n paar skape, 
varke en ganse. 'n Rolmodel wat die woord nie kan lees of skryf nie.

Dis grootmense wat in die klasse sit. Maar op Putsonderwater stroom die kinders van die dorp skielik die lokaal binne.

Kort tevore het ons onder die koeltebome van die stasie stilgehou om water uit die koelfles te drink. Die son brand versengend neer. Daar 
is oorblyfsels van pragtige tuine, nou lankal reeds dood. Voor die stasiegebou blom die malvas egter nog rooi, want iemand gee water, nie 
omdat hy moet nie, maar omdat die blomme so na lewe lyk. Die iemand vertel ons dat Putsonderwater baie jare die prys as mooiste stasie 
verower het. Nou hou die trein nie meer daar stil nie. Die yslike stasiegeboue staan nog gereed soos gister, selfs die outomatiese klok 
gaan aan die lui toe 'n trein skielik verbysnel, sonder om stadiger te ry. Die groot hotel is toegespyker, so ook die winkel, kafees, 
banke, groot woonhuise. Spoornet het vir Putsonderwater dood gerasionaliseer. Net 'n paar verslae en ongeletterde werkers het agtergebly, 
sonder werk of vooruitsig.

En dan natuurlik die kinders wat skielik saam met ons in die kerkgeboutjie is. Doodstil gaan hulle sit. Hier is besoekers uit 'n ander 
wreld. Hulle sing saam met ons, luister wanneer ons praat oor geletterdheid. Horatio vra uit oor hulle drome: die meeste wil Polisie toe, 
'n paar wil dokter word, 'n enkele seuntjie droom om 'n vliegtuig te loods. Maar hulle is tussen drie en twaalf jaar oud en besef nog net 
effens dat Putsonderwater nie goed is vir drome nie. Soos al die ander plekke op ons reis.

Op Kenhardt is die gemoedere rusteloos. Die geletterdheidsbyeenkoms word 'n toekomsgesprek. Daar word gepraat oor 'n afwesige toekoms, oor 
'n groot doodloopstraat, oor tonnels sonder ligte, oor die kinders wat skynbaar sorgloos in die stofstrate speel en nog nie weet van die 
verraderlike toekoms nie. Ons probeer antwoorde gee, maar die woorde klink hol en maak die kakebene lam. Is daar rens 'n hulpbron vir 
Afrikaanse mense in die Noord-Kaap? Hoe lyk dit met kursusse in ondernemerskap, vra jy slim. Wat jy waar kry? Om wat mee te maak? Die 
plaaslike predikant pleit vir eenheid tussen kerkgemeenskappe, politieke partye en kultuurgroepe. Dalk is die einde dan makliker.

Maar die mense in die saal kyk na die besoekers uit die Kaap om 'n verlossende woord te spreek. Ons raak al meer verstrik in nuttelose 
frases. Die studieleiers merk die verleentheid en sit 'n koortjie in wat van 'n betroubaarder verlossing getuig:
Alles gee ek aan die Here oor
Gedenk U ook aan my ...

Toe o word hemelwaarts gerig en 'n geluksaligheid verdryf die stroewe lyne.

So sit ons maar die reis voort deur dorre, mooi landskappe: ten minste is die mense orals bly om ons te sien. Ons vermy temas oor armoede, 
werkloosheid, hopeloosheid. Ons sing en praat dit dood met geletterdheidsliedjies en motiveringspraatjies, aangevul met die weemoed van 
koortjies. Ons prys die mooi handskrifte, vra besorg uit oor afwesigheidsyfers op die klasregisters. Siekte en dood is orals getroue 
besoekers.

Op Marchand styg die kwik tot oor 40 in die onderriglokaal. Die leerders lees en skryf. Ek en Horatio word gelawe met bottels koeldrank 
wat enkele minute gelede nog koud was. Chrissie is taai en toon nie tekens van ineenstorting nie. Gelukkig vir die luggie wat stoot deur 
die stukkende ruite. Hoe sou dit in die Mier landelike gebied voel? Dankbaar, maar woordeloos ontsnap ons op elke plek n twee uur in die 
lugverkoelde motor.

S besoek ons elke paar weke al die projekte. Ons bemagtig deur middel van die moedertaal, want dis die taal waarin ons mense so geletterd 
moontlik moet sterf.   Prof. Flip Strydom is geletterdheidshoof van die SvA.

Terug na bo

GELETTERDHEID

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av554.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999     Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- Desember 1998 /// Hanteer praktiese taalprobleme menswaardig (AV 5:5) 
/// Oor vryheid en onvryheid (AV 5:5) /// Nederlandse boeke in Suid-Afrika (AV 5:5) /// Wie sal die verlossende woord spreek? (AV 5:5) /// 
Toonvenster van talent (AV 5:5) /// Hegte vriendskapsbande met Vlaandere gebou (AV 5:5) /// 'n Nuwe Afrikaanse webwerf (AV 5:5) /// 
Gehalteprodukte verdien sente (AV 5:5) /// Europese studie-ervaring is binne bereik (AV 5:5) /// Kroniek van twee gesprekke (AV 5:5) /// 
Die wel en wee van Afrikaans se statusprys (AV 5:5) /// Ons sing in Afrikaans! (AV 5:5) /// 'Aitjiebul' speel met taal (AV 5:5) /// 
Vrouekrag in die Suid-Kaap (AV 5:5) /// 'n Gees van fees in die lug (AV 5:5) /// 'n Skrywersoog op Kersfees (AV 5:5) /// Stel die land en 
al sy mense sentraal (AV 5:5) /// Slaan 'n slag vir Afrikaans (AV 5:5) /// 'Interessante tye' vra innovasie (AV 5:5) /// Veeltaligheid is 
'n bron van kennis (AV 5:5) /// 'n 'Oulap' se stories laat die taal vonkel (AV 5:5) /// Sport en sports vir joernaliste in Londen (AV 5:5) 
/// Ek en die lytest geneuk (AV 5:5) ///

